Vestibulêre Stimulasie

Die vestibulêre sisteem is die sensoriese sisteem wat verantwoordelik is om inligting vir die brein te verskaf oor beweging van die lyf, posisie van die kop, posisie in die ruimte asook ruimtelike oriëntasie van die lyf. Verder beinvloed dit ook `n kind se motoriese vaardighede en funksies.

Die vestibulêre sisteem help met balans, asook om die kind se kop en lyfie gedurende bewegings te stabiliseer, die korrekte postuur te handhaaf wanneer die lyf beweeg en help dat kinders veilig voel wanneer hulle voete kontak met die aarde verbreek.

Die vestibulêre sisteem is die mees kritieke sensoriese sisteem in die lyf. Die sisteem het `n ongelooflike impak op kinders se motoriese en emosionele vaardighede asook leer vermoë. Die vestibulêre sisteem is die eerste sisteem wat in die baarmoeder ontwikkel!

Na geboorte dien hierdie sisteem as die brein se “verkeerbeheertoring” vir alle inkomende sensoriese informasie. Dit sorteer en stuur alle inkomende sensoriese informasie vanaf ander sensoriese sisteme na die verskillende sensoriese areas van die brein.

Ontwikkeling

Vestibulêre stimulasie is baie belangrik vir kinders se ontwikkeling. Dit help met balansaktiwiteite, rompbeheer, motoriese koördinasie asook groot motoriese en sport aktiwiteite. Verder beїnvloed dit ook selfsorg aktiwiteite bv. om jou kop agteroor te tilt om hare af te spoel.

Die vestibulêre sisteem help kinders om gereguleerd te voel en om fokus te hou in die klas.

Wanneer `n kind se vestibulêre sisteem nie goed geintegreerd is nie, kom hierdie kinders voor as oorsensitief of ondersensitief vir beweging. Hierdie kinders beweeg konstant om hulle self te stimuleer of is bang en onseker om te beweeg.

Hulle mag moontlik sukkel met koördinasie en beplanning en vind die volgende take moeilik en uitdagend: springpatrone, ritme behou, balvaardighede en midlynkruising aktiwiteite.

Die vestibulere sisteem sorg vir:

  • Goeie balans! Wanneer `n kind se vestibulêre sisteem nie voldoende geintegreerd is nie, kom kinders lomp voor.
  • Verbeter visuele volging: Hierdie help kinders met oog-kop koördinasie, dws om met gemak van hulle boeke na die swartbord en terug na die boek te kyk sonder om hulle plek te verloor of om `n bewegende bal deur die lug te volg met hulle oë.
  • Ondersteun en bevorder taal ontwikkeling deur ouditiewe en visuele sintuie te integreer.
  • Help met waagmoed en selfvertroue.
  • Moedig self regulasie aan.

Daar word ook na die vestibulêre sisteem verwys as die “aan en af” knoppie van die brein of lyf. Die vestibulêre sisteem kan kinders opwek of kalmeer.

Vinnige op en af, of draai bewegings is geneig om kinders op te wek en hulle lyfies “wakker” te maak, waar stadige en ritmiese bewegings weer help om kinders te kalmeer of te reguleer.

Vestibulêre stimulasie en aktiwiteite moet versigtig benader word, omdat elke kind anders hierop reageer.

Speel

Meeste kinders se vestibulêre sisteme ontwikkel spontaan deur alledaagse spel, wat beweging insluit.

Hier is `n paar aktiwiteite wat vestibulêre stimulasie stimuleer:

  • Spring speletjies: Trampolienspring, hop scotch, springtou.
  • Draai speletjies: Rondomtalie, bollemakiesies, rol op die vloer, dans, opwen en afdraai op `n swaai, wawiele maak, draai op `n kantoorstoel.
  • Swaai speletjies: Parkie-swaai, platform swaai, hangmat, “monkeybars”, hamer-spyker.
  • Liggaamsbewegings of posisies: Kop-onderstebo staan, krapstaan, muur-handstands maak, kruiwaloop, onderstebo hang, oor `n bal rol.
  • Fietsry, skopfietsie of skaatsplank ry.
  • Glyplank.
  • Hindernisbaan.
  • Balans speletjies: Loop oor `n balansbalk of Twister speel.

Spring, speel, draai en swaai!
Skree, hardloop en maak `n lawaai!

Wip op die bed en ry op jou fiets,
Rol by die wal af offspring op iets.

Maak `n bollemakiesie, spring en klim,
Want al hierdie lekker speletjies maak jou brein sommer slim!